’n Persoonlike Refleksie oor Narratiewe Terapie

Dit was ’n dag van vergaderings en verslae, boonop ’n Maandag met al die potensiaal om in ’n diepblou of pers uit te slaan. Ek was op kantoor met die radio aangeskakel, in die agtergrond. Tussendeur die vergaderings loop ek verby die draadloos en hoor grepe van ’n gesprek wat my dadelik my ore laat spits.

Ek gaan staan letterlik botstil en luister na ’n onderhoud met ’n narratiewe terapeut. My verbeelding is dadelik geprikkel en ’n dag later begin ek navraag doen – wie, wat, waar, hoe?

Minder as ’n week later sit ek in my eerste klas, nuuskierig en honger vir meer inligting. Dr Jo Viljoen begin die klas met die woorde – “narratiewe terapie is ’n migrasie van identiteit”.

Later sou ek dit as ’n “tuiskoms” beskryf en ’n sleutel tot ’n wêreld van wonder; en later ook verwondering. Die afgelope paar maande voel soos ’n – alles behalwe duiselingwekkende – tuimeltrein waarin die hardnekkige “absolute waarhede” van die modernisme moes plek maak vir prikkelende vraagstelling en die ontsluiting van nuwe storiegedrewe lewenspaadjies, skittermomente, betekenisvolle toeval en ’n nuwe stem.

Die klasse bied ’n veilige ruimte vir verkenning sonder om die probleemnarratief toe te laat om jakkalsdraaie te gooi. En my klasmaats is passievolle medevertellers, reisigers en getuies van vernuwende verhale.

Die diep keep van ’n plooi is skielik nie meer daar nie en die skouers voel ligter. Ore word sagkens gespits en die oë blink vir wanneer ’n skitterende spoelklippie uit die modderwater gelig word.

Die eerste jaar voel soos ’n voorgereg as ’n mens hoor watter impak narratiewe terapie op soveel vlakke, in gemeenskappe en in mense se lewens laat.

Dankie aan almal by Coram Deo wat hierdie reis so spesiaal maak. Ek sien reikhalsend uit na die volgende hoofstuk.

Kobus Burger